Soetloop

Type: 
Historische en streekromans
Auteur: 
E. Kotze

Een wereld die voorbijgaat...

 

Door Alta Cloete

 

In Soetloop keert E. Kotze terug naar de Weskus. Een mooi, maar hard en ongenaakbaar landschap. Voor de inwoners van deze streek valt het niet mee om zich aan armoede en swaarkry te ontworstelen.

 

“’n Stilte volg waarop hulle die vinger nie kan lê nie, maar wat onteenseglik daar is. ‘n Onaantasbare energie soos die suidewind, die gesuis van die see, ‘n laaste asemtog. Die dogters omarm mekaar.

            Kattie is nie meer nie. Die boek is toegemaak, die laaste bladsy is gelees.”

            So eindig Soetloop, wat heel moontlik E. Kotze se laaste boek kan wees. Sy is alreeds in 1933 gebore; dis ‘n wonderlike genade om op dié rype ouderdom nog so ‘n besondere boek van haar te ontvang.

          Opgewekte leesstof is Soetloop nie. Soos al haar boeke word ook hierdie een bevolk deur oudgewerkte, verarmde mense in ‘n wrede landskap. Eenvoudige mense wat worstel om ‘n bestaan uit die harde aarde te maak, kinders wat van kleins af hard werk en met min tevrede moet wees, vrouens (en dikwels mans ook) wat nie veel keuses het nie.

            Ons ontmoet vir Claas Prins, of dan Claas Arm, vanweë sy arm wat weens gebrekkige gesondheidsorg vir altyd ‘n las gebly het. Claas, wat gemaklik grootgeword het, maar nou spook om kos op die tafel te kry vir sy groot gesin. Die leser besef gou dat Soetloop dekades gelede afspeel, maar nog nie vir almal verby nie. Dis ‘n ander tyd en ander omstandighede, maar in Suid-Afrika is daar steeds ouers wat spook om groot gesinne te onderhou met gebrekkige middele en geleenthede.

            Ons ontmoet vir Ellen, Claas se vrou, wagtend by die “vratterige rietdakhuis” met haar hande onder die ruim-geplooide voorskoot. “Sy sit in die uitgesakte biesiestoel onder die venster, haar hande oor haar geswelde buik gevou, knieë wyd vanmekaar, donker sisrok, wit voorskoot, toegerygde velskoene.”Ook Ellen het vroeër ‘n sagter lewe geken, maar nou bestaan haar dae uit harde werk en sleur en kommer. En nog ‘n kleintjie is op pad.

            “Die ou tante neem oor, gee eers aandag aan Ellen wat swak is, so swak dat sy skaars ‘n mondjievol brandewyn kan sluk. Haar arms val kragteloos weg toe die suigeling aan haar gepresenteer word. Dis ‘n dogtertjie, ‘n lang, slap gedaantetjie wat kermend en met gebalde vuiste die wêreld ingekom het. Uit haar soekende mond kom klageluidjies soos van ‘n diertjie wat te lank sonder kos was.”

            So kom Tomasina Prins die wêreld in, die tiende kind van Claas en Ellen. Nog ‘n mond om te voed, nog ‘n lyfie om te klee. “Daar kan dalk nog later iets van kom,” sê haar broer toe hy die kombersie wegtrek.  “Maar sy is nie ‘n lekker babatjie om vas te hou nie. So klein en so kwaai! Sy blaas soos die huiskat, wat die hele petalje van die vuurherd af met spleetoë sit en beskou.” Gou-gou word sy Kattie, na haar liefde vir die kat waarmee sy van kruiptyd af onder die tafel sit.

            Soetloop is Kattie se lewensverhaal, maar ook die verhale van die mense om haar.  Dis egter ook die lewensverhaal van almal wat nie outomaties inpas waar hulle gebore is nie, almal wat smag na ‘n beter lewe, na méér. Op ‘n stadium lyk dit of Kattie daardie beter lewe gaan vind. Maar op die ou end het sy ook maar nie regtig ‘n keuse nie, soos baie vroue in baie kulture vandag steeds min keuses het.

            Soetloop is ook die storie van vergange tye en ‘n leefwyse wat binnekort nog net in bronne soos Kotze se kosbare boeke gaan bestaan. Tye verander, mense verander, omstandighede verander. Vandag se jonges het oor die algemeen meer keuses en meestal gryp hulle dit gretig aan. Maar dikwels is daar dinge wat dieselfde bly. Wanneer armoede by die deur uitgaan, bly daar soms die ander armoede agter – die stiltes, die onbeholpe kommunikasie, die onvermoë om liefde te bewys. Ook hierdie waarheid vind neerslag in Kattie se verhaal.

            Ja, dis nie ‘n vrolike storie nie. Dis ‘n storie wat mens met weemoed vul. Maar die storie is so eg, die karakters so menslik en die taal so lieflik dat mens nie kan ophou lees nie. Elke woord is met oorleg gekies en op die beste plek staangemaak. Elke beskrywing van die leefwyse, die harde werk wat die mense se lewens vul, die klein vreugdes en die groot verdriet, bly die leser by.

            Soos in al Kotze se boek is die landskap altyd daar, soos ‘n karakter in eie reg: die Weskus, die veld en die see. Die skoonheid en die wreedheid van die natuur is onderliggend aan die lewe van die karakters wat Kotze se stories bevolk. Die Weskus vorm die mense, brei hulle, breek hulle soms. Individue gaan verby, geslagte gaan verby, maar die landskap bly staan. Dit word wel deur die mens verander, maar in vele opsigte is dit ‘n tydlose gebied wat hom nie laat regeer nie.

            As jy hou van menslike, egte stories, lees vir Soetloop. As jy Afrikaans wil hoor sing, lees vir Soetloop. As jy nie Kotze se werk ken nie en wonder of jy dit moet aanpak, doen dit – en word verras en verryk.

 

Oor die resensent:

Alta Cloete is ‘n Bolandse skrywer van eg Suid-Afrikaanse lekkerleesfiksie. Meer as vyftig tydskrifverhale asook dertien romanses en nege romans het al uit haar pen verskyn. Aangesien sy op amper vyftig eers werklik begin skryf het, hoop sy om tot minstens tagtig te kan aanhou. Wanneer sy nie skryf of na kinders oorsee verlang nie, probeer sy Afrikaanse boeke op die internet en sosiale media bevorder. Alta Cloete beheer die Facebook-blad 'Kom ons lees weer Afrikaans' en sy het ook haar eie blog: http://www.altacloete.wordpress.com/. Vir meer inligting oor haar gepubliseerde romans en verhale, kyk op: https://www.goodreads.com/author/show/6472211.Alta_Cloete.