Zoekveld

Om te studeer in Nederland

door Danny Titus

 

Danny Titus, thans Uitvoerende Direkteur: Kultuur bij de Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), blikt terug op zijn studietijd in Nederland in de jaren '80. Een periode waarin hij onder meer het concept "mensenrechten" leerde kennen. En waarin hij en zijn gezin voor het eerst kennismaakten met de vrijheid.

 

Dis baie moeilik om deesdae oor Suid-Afrika te skryf. Dinge verander so snel. Wat met die Zuma regering vasstaan, is dat waar mnr. Nelson Mandela sy lewe en die stryd in Suid-Afrika as die Long Walk to Freedom tipeer het, is die ervaring na sy heengaan gewoon een van die ander kant van vryheid. Dis 'n kant wat ons nooit verwag het nie. 'n Kant waar korrupsie en bedrog aan die orde van die dag is, en dit op skale wat ons nooit van kon droom nie.

Ek het onlangs die boek Goede Hoop - Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600 uit Nederland ontvang. Ja, die verhaal tussen my land en Nederland loop baie ver en baie diep. Ek het enkele aanhalings uit die boek op my Facebook geplaas, onder andere oor die skip De Haerlem wat in 1647 aan die Kaapse kus gestrand het. Onderkoopman Leendert Janszen en 62 man moes agterbly toe hulle kaptein verder Nederland toe is. Die Nederlanders het toe vir 'n jaar op die land gebly. In 1648 word hulle opgehaal en toe hulle in Nederland aankom skryf Janszen in sy Remonstrantie aan die VOC dat die plaaslike inwoners die Khoikhoi, my voorsate glad nie woestelinge en mensvreters was nie. Trouens sê Goede Hoop"Deze passage is van cruciaal belang en staat haaks op alles dat tevoren over de Khoikhoi was geschreven. In één keer werd er korte metten gemaakt met de traditionele kijk op deze woestelingen en menseneters." (2017:43).

Om te dink hoe die koloniale besetters, Nederlanders, Engelse en apartheidsdrywers die Leendert Janszen-Remonstrantie van 1649 doelbewus geïgnoreer het om heerskappy te kom voer op die land wat van my voorsate afgeneem is. Die pasassie word ook met groot genoeë in 2017 in Suid-Afrika gebruik in die herontdekking van die groter prentjie van ons land se geskiedenis. Die land is maar die afgelope twintig jaar 'n demokrasie en moet drie eeue se verdraaide geskiedskrywing en bagasie probeer regstel. Jammer genoeg was die Mandela-periode te kort en die diktatuur lê vandag en loer op ons.

'n Ander boek wat ek uit Nederland bestel het, is van die Nederlandse historikus en joernalis Bart de Graaff, Nederlands als poort naar Afrika (2014). Hy doen navorsing oor wat hy noem "nuwe ou stories" wat byna daagliks in Suid-Afrika voorkom: "Verhalen van mensen en gemeenschappen die vroeger monddood waren en nu eisen om gehoord te worden. Ze variëren van oeroude, mythische vertellingen tot stukjes hartseer geschiedenis. ... Wat veel van deze verhalen gemeen hebben is dat ze in het Afrikaans verteld of geschreven worden. In de taal die Nederlanders vrij gemakkelijk kunnen lezen en met een beetje moeite ook redelijk verstaan." (2014:7).

Dit was my en my vrou se Afrikaans wat ons ook geredelik toegang tot Nederland gegee het toe ons vir ses jaar daar gewoon het. Afrikaans en Nederlands is ook deel van die eeuelange verbintenis. 'n Nuwe skool van navorsing oor Afrikaans het begin nesskop in Suid-Afrika. Dis die skool wat sê as dit nie vir die invloed van die inheemse mense was nie, die invloed van die slawe, dan het Suid-Afrika vandag nog Nederlands gepraat. Dis die skool wat sê Afrikaans is 'n taal van vermenging, 'n kreoolse taal. Dan is daar die ander skool wat steeds sê Afrikaans is 'n Europese taal, Germaans, suiwer en geen brabbeltaal nie.

Hoe dan ook, my Afrikaans waarmee ek grootgeword het, is deur die apartheidsideoloë gesien as brabbeltaal. Hulle suiwere taal was die standaard en weg met die res. De Graaff skryf oor sy boek: "Bovenal wilden wij een lekkerleesboek maken. Een boek waarmee wij willen zeggen dat Zuid-Afrika niet alleen een land is om te zien, maar ook een land om naar te luisteren. Dat wie goed luistert meer ziet en meer begrijpt. Dat Zuid-Afrika een land is waarna we ook kunnen luisteren, dankzij Afrikaans." (2014:8-9). Hy meng hom nie in die suiwerheid of die brabbel van die taal nie.

 

Nederland toe

My verhaal met Nederland begin in 1987 toe ons voor 'n brandende kolestoof (geen gas nie, maar steenkool) in Orlando-Oos in  Soweto staan. Lynda, my vrou, ek en ons vyf maande oue baba Daléne, was op besoek by Elsie en Zach Mokgoebo. Hulle het later leraarspaar by dieselfde kerk geword. Lynda is jammer genoeg so drie jaar gelede aan kanker oorlede.

Dit gaan toe oor ons toelatingsbrief wat vanuit Bochum, Wes-Duitsland gekom het. Ons het so 'n jaar gelede reeds aansoek gedoen om deur die Duitse Ekumeniese Studiewerk befonds te word om in Nederland te gaan studeer. Die groep waaraan die Mokgoebo's en ons behoort het, was die Belydende Kring wat 'n kerklike organisasie was waar christene vanuit die verskillende NG kerke bymekaar gekom het. Dit klink heel gewoon, maar dit was nie. Die apartheidstyd het integrasie nie ondersteun nie. Ook in die kerke was ons geskei. Om dit dan bewustelik teen te staan en die eenheid en geregtigheidsopdrag van die Skrif te gehoorsaam, was waar die Belydende Kring met heelwat Nederlandse, Duitse en Switserse kerke begin saamwerk het.

Dit was dan ook 'n groot genoeë om met witmense uit Europa kontak te kon maak wat nie die apartheidsbeleid ondersteun het nie. Wat 'n totale weersin daarin gehad het en wat geen moeite gehad het om met ons van swart kant hande te vat nie. Vandaar die geleenthede om daar te kon studeer. Enersyds om die rassediskriminasie en onderdrukking  van die Suid-Afrikaanse samelewing te ontsnap, andersyds om in samelewings te kon woon waar jou kleur nie minderwaardigheid vestig nie, maar waardigheid, respek en naasteliefde. Daarmee saam moes ons later ervaar dat die Nederlandse wetenskap gewoon op 'n totaal ander vlak is. Hard, diepgaand, nugter en geloofwaardig.

 

(Tekst gaat verder onder de foto.)

Danny Titus

 

'n Ander werklikheid

In Nederland was daar toe 'n organisasie genaamd LOS (Landelijk Overleg Steungroepen). Hulle taak was om Suid-Afrikaanse studentefamilies te ondersteun in Nederland. Dit het ingesluit die ophaal op Schipol-lughawe en die algemene inlywing in die Nederlandse samelewing. Die "strippenkaarte", die Nederlandse geldeenhede, die treine, die fietse en die winkels. En dan die geleentheid om in vryheid te kon studeer, om toegang tot boeke en studies te kon hê wat in Suid-Afrika verban was. Ek het regte studeer in Suid-Afrika en vir die hele studie tot en met 1982 het die woord "menseregte" nooit tevoorskyn gekom nie. Dit klink vandag hard en byna moeilik om te glo, maar dit was my ervaring. In Nederland verneem ek dat daar menseregte in verskeie vakgebiede aangebied word. Ek kon my oë nie glo nie en het my onmiddelik daarin gestort. Dit was moeilik om die Suid-Afrikaanse ritme en persepsies uit my gestel  te kry en voortdurend moes ek dink wat my studies sou beteken om die situasie in my land te verbeter. Dit was ons ingesteldheid ook tydens my studie in Suid-Afrika aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Hoe gebruik jy jou studies om 'n verskil in die land te maak?

Die Nederlandse weer was 'n faktor om mee rekening te hou, maar gou het die serpe, warm klere, reënjasse en "paraplu's" (reënsambrele) deel van die huishouding geword. Fietsry was 'n daaglikse gebeurtenis en die treine en busse ry almal op tyd. Die buschauffeurs was so vriendelik veral waar ons met 'n baba en babawaentjie oor die weg moes kom. Ons is opgeneem in die kerk en ja, met hartlikheid verwelkom. Anders as tuis in Suid-Afrika waar swartmense geweier is om in die wit NG kerk te kon sit. Die Nederlanders vind dit toe ook vreemd toe ek opmerk dat niemand opgestaan en uitgeloop het toe ons die kerk ingekom het nie. Ook dit klink wrang in vandag se taal. Dit was 'n bietjie vreemd by die eerste kerkbesoek dat ek na vore geroep is en toe in 'n kring moes dans. Die mense het gedink dans is mos deel van Afrika en hulle sal my met hulle passies vermaak. Dit was nie so lekker nie. Maar ja, die bedoeling was goed.

En dan het ons die Nederlandse taal leer praat. Vir 'n maand het ons taamlik gesukkel en ons verdiep in die Nederlandse tv. Die verskillende programme van Hennie Huisman, Sonja Barend, die verskillende kanale, die VARA, die TROS, die AVRO, VPRO, die EO en later Veronica. Dit was ook 'n plesier om in die BBC- en ander Britse programme verstrengel te raak. CNN het heel wat later gekom. Ons het 'n totale nuwe wêreld betree. Die Nederlandse taal het makliker gevloei. Vir my was dit eers toe ek kon begin om "wij" te sê dat dinge beter gegaan het. Ek het voortdurend die Afrikaanse "ons"  gebruik. Maar ons kon ook ons wêreld aan die Nederlanders wys. In die begin was dit natuurlik die apartheid wat voorop gestaan het en ons het gereeld groepe gaan toespreek oor die situasie in ons landjie. Toe nog diep in die hart van die militêre staat wat Suid-Afrika geword het. Verbannings, aanhoudings, martelinge, die militêre, die godsdiens, die akademie, die politiek almal in diens van die ideologie dat die minderheid die meerderheid aan die kant mag stel. Langsamerhand het ons vriendskappe sterker geword. Ons kon ook ons steungroep uitnooi om by ons te kom eet en Lynda het die heerlikste Suid-Afrikaanse kosse voorberei. Ons wêreld wat kon raak aan hulle wêreld.

Lynda het later 'n driejaar diploma in Montessori-onderrig in Rotterdam geloop. Sy is toegelaat om haar take in Afrikaans te doen. "Grappig taaltje", was die kommentaar, maar "we begrijpend het wel." Lynda het in meer as een van haar vakke uitgestaan as die beste student. Terug in Suid-Afrika later kon sy met groot vrug 'n Montessori-skool in Pretoria bedryf.

Nederland het seker die grootste anti-apartheidsbeweging in die wêreld gehad. Daar was onder andere die AABN, (Anti-Apartheidsbeweging Nederland), die KZA (Komité Zuidelijk Afrika), BOA (Boycot Outspan Aktie) en die Werkgroep Kairos. Werkgroep Kairos het meer met die kerke in Nederland gewerk en daar was ons grootliks by betrokke. Die ander was sterk ANC en SA Kommuniste Party. Ons het ons in die begin maar op afstand van die ANC en SAKP gehou. Ons het later voetjie vir voetjie begin skakel. Die woord "landgenote" het vir my 'n nuwe betekenis gekry. "Ontmoet een landgenoot van me", het die Suid-Afrikaanse banneling Vernie February altyd gesê wanneer hy my aan sy Nederlandse kollegas voorgestel het. Ja, dis maar die gevoel wanneer Suid-Afrikaners in die buiteland is. Jy is deel van 'n land wat joune is en dan nog, is jy 'n "landgenoot" van iemand. Weer een van die vreemde klanke in vandag se taal, maar toe was jy 'n banneling, 'n vlugteling in jou eie land. In Nederland was ek 'n landgenoot. Saggies dreun die ANC se Freedom Charter toe, "South Africa belongs to all who live in it, black and white." Mens kon dit begin voel in Nederland. Tydens een anti-apartheid demonstrasie skree ek na een van ons Nederlandse vriende, "Oppas daar's die polisie!" Ek moes gou leer dat die polisie nie daar was om op Suid-Afrikaanse wyse op jou te skiet of aan te rand nie, maar om te sorg dat jou protesoptog vreedsaam verloop.

Teen die muur van die polisiestasie in Leiden was daar 'n kleurvolle uittreksel uit die VN se Universele Verklaring van Menseregte, "Alle mensen worden vrij en gelijk in waardigheid en rechten geboren. Zij zijn begiftigd met verstand en geweten, en behoren zich jegens elkander in een geest van broederschap te gedragen." Ek moes my kamera gaan haal, 'n foto neem en dit huistoe stuur.

 

Welkom by die ambassade

Die studies was verbysterend. Horison na horison was net elke keer verskuif. "We hebben een klein land," stel 'n professor in politieke studies dit, "maar we hebben een grote buiteland." En daardeur verwoord hy vir my die Nederlandse kyk op die internasionale wêreldorde. Ons is deel van die wêreld, integraal deel. In Suid-Afrika was dit juis die omgekeerde: die wêreld is teen ons, hulle verstaan ons nie, apartheid is ons saak, dis deel van ons nasionale soewereiniteit. Die bevrydingsbeweging was egter oop en het hande gevat nasionaal en internasionaal. As deel van my studie raai my professor, Peter Kooijmans, my aan om 'n maand by die VN in Genève te gaan sit en te observeer hoe 'n menseregtekomitee daar werk. Nog 'n horison verskuif. Dit word 'n hoofstuk in my studie.

Aan die einde van my studies, die doktoraal (LLM) was klaar, die proefskrif was in die proses om gedruk te word, kom daar nog 'n geleentheid. Die ANC nader my om deel te wees van 'n diplomateklas aan die gerenommeerde Clingendael in Den Haag. Vir drie maande kon ek en so 35 ANC'ers aan die voete van die wêreld se kundiges in internasionale betrekkinge en diplomatieke praktyk sit. Enorme mediadekking hieroor in die Nederlandse en internasionale media. "Van die bosoorlog tot sjerriedrinkers" het van die opskrifte gelui. Vanuit sy kantoor in die Suid-Afrikaanse ambassade het die Suid-Afrikaanse ambassadeur Albert Notnagel dit alles gade geslaan. Hy besluit toe om sy landgenote uit te nooi vir 'n besoek. Was dit nou 'n pandemonium in ons diplomateklas. "Ons kan die regime nie vertrou nie," sê een. "Hulle gaan ons vergiftig," was 'n ander se kommentaar. "As ons vir Notnagel ja moet sê," vertel die ANC verteenwoordiger in Brussels, "dan moet ek vir Neil van Heerden ook gaan ontmoet." En so het ons in kringe van alles en nog wat bespiegel.

Die ANC in Lusaka moes uitsluiting hieroor gee, vertel 'n Nederlandse vriend my later. Ons land toe in die pragtige Suid-Afrikaanse ambassade aan die Wassenaarse Weg 40, Den Haag. Alles besonder deftig voorberei. Hulle was ewe ongemaklik as ons. Al wat ons weet, is dat die rapprochement tussen Mandela en de Klerk ook by ons moes gestalte kry. Ons byt maar op die lip, hierdie versoening is 'n moeilike ding. Toe almal ons sit gekry het, was dit ambassadeur Nothnagel wat aan die woord was. Gesoute politikus spreek hy ons met waardigheid en respek toe. Dis egter sy openingswoorde wat ons weerstand laat smelt het. "The Freedom Charter says, South Africa belongs to all of us, black and white," siteer hy uit die dokument waarvoor mense al gevangenis toe gegaan het onder sy regering. "This embassy is part of the South African sovereign territory even though it is in the Netherlands. Therefore my countrymen and women, this embassy belongs to you and me. Welcome to the South African embassy, welcome to your embassy." Al ons besware is by die venster uit, ons eet die kos asof daar geen einde aan is nie. Die aand was 'n reuse Suid-Afrikaanse sukses.

 

"Dat gekke landje van mij"

En so kom ons verblyf in Nederland tot 'n einde. My promotor Prof. Kooijmans het intussen Minister van Buitelandse Sake geword. Hy moes op 14 Junie 1993 in Wenen by 'n VN-konferensie oor die universaliteit van menseregte praat. Op 15 Junie 1993 was die verdediging van my proefskrif en sy amptenare moes skarrel in Wenen om hom betyds by die gradeplegtigheid te kry. Hy was daar in die Senaatsaal van die Universiteit van Leiden toe ek ondervra is deur die paneel. In Nederland moet jy jou doktorsgraad in die openbaar verdedig. "Dat is gewoon niet eerlijk!" was die kommentaar van my sesjarige Daléne. "Zij zijn tien en Pappa die staat alleen tegen ze!"

Ons Nederlandse verblyf was suksesvol afgehandel. Lynda had haar Montessori-kwalifikasie en ek my doktorsgraad in die regte. "Gaat u echt terug naar dat gekke landje?" vra 'n belangstellende Nederlander. "Jazeker", sê ek. "Dat gekke landje die is van mij." Ek is 'n landgenoot van daardie land.

Terug in Suid-Afrika moes ons aanpas en inpas. Ons Nederlandse studie het deure oopgemaak na verskillende beroepe van die SA Regskommissie, menseregte ngo, dekaan in die akademie, Kommissaris van Menseregte by die SA Menseregtekommissie, VN kundige op die VN Kundigheidsmeganisme oor die Regte van Inheemse Mense, en die laaste agt jaar taal en kultuur by die ATKV.

Ek dra hierdie skrywe op aan die Landelijk Overleg Steungroepen (LOS), spesifiek ons LOS-groepie in Oegstgeest. Vrywilligers in Nederland wat saam met ons gebid het dat dit beter sal gaan in ons land. Dat die onmenslike skeidinge tot 'n val sal kom. Hulle wie aan ons 'n heenkome gegee het, 'n tuiste om hulle diepste menswees te kon ontdek, en ja, natuurlik ook ons s'n. Ons land was vry en eensgesind. Ons was te optimisties en het te lank ons verberg vir die magshonger en gierigheid wat ons in die gesig gestaar het. Miskien moes ons 'n klein skeutje Nederlandse nugterheid saamgeneem het. Met die dieptepunt van ons huidige regering is dit eintlik met skaamte dat ons dink aan ons Nederlandse vriende se bydrae tot ons struggle. Tog, terwyl ons weer sê "dank u wel," dwing die gedagtes aan daardie Lae Landjie ons terug na die teue van vryheid wat ons kon inasem daar en ook op eie bodem. En waar ons vandag telkens verstik in politieke gedienstigheid in die naam van demokrasie, onvryheid in die naam van vryheid, weet ons wie ons is, wie ons vriende is en wat ware vryheid was, is en kan wees.