Zoekveld

Laudatio Wium van Zyl - deur Leopold Scholtz

Prof W.J. (Wium van Zyl)

Tijdens de jaarvergadering van de NZAV op 3 mei werd de Van Riebeeckpenning, de erepenning van de vereniging, uitgereikt aan de Zuid-Afrikaanse letterkundige prof. dr. W.J. van Zyl. Leopold Scholtz, voormalig adjunct-hoofdredacteur van Die Burger en nu Europa-correspondent van Media24, hield bij deze gelegenheid de laudatio.

 

Geagte meneer die voorsitter,

Dames en here!

 

Dié laudatio vir Wium van Zyl is een van die moeilikste stukke wat ek nóg in my loopbaan van 43 jaar as akademiese en joernalistieke skrywer aangepak het. Dit is om twee redes die geval.

Ten eerste, Wium is reeds dekades lank my persoonlike vriend. Hoe kan jy objektief staan teenoor iemand wat sulke diep spore in jou eie lewe getrap het?

In die tweede plek, ek is geen letterkundige nie. Inteendeel, ek beskryf myself altyd as ’n letterkundige barbaar wie se belangstelling in die letterkunde ongeveer tot Deon Meyer beperk is. Vra my liewer uit oor Nkandla of die Oekraïene; daar voel ek my baie meer tuis.

Maar laat ek tog maar probeer. Ek kan hier natuurlik ’n biografiese opsomming van sy lewe gee en op sy oeuvre van geskrifte en navorsing konsentreer, maar hoe indrukwekkend dit ook al is, dit gee nie regtig weer wié en wát Wium van Zyl is nie.

 

Huisvriende

Volgens Wium het hy my ’n keer of wat in die vroeë jare sewentig by die Koninklijke Bibliotheek in Den Haag gesien terwyl ons albei in Nederland gestudeer het – hy en sy vrou, Dorothea, in Utrecht, en ek in Leiden. Maar ons het mekaar nie toe ontmoet nie.

Daardie voorreg het ek pas in April 1981 gekry nadat Wium my Nederlandse vrou, Ingrid, genader het om hom in die Departement Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland te help. Ingrid was toe by die Departement Geskiedenis, en Wium was die enigste lid van sy eie departement, wat kort tevore van die Departement Afrikaans-Nederlands afgeskei is.

Ons het spoedig huisvriende geword en gereeld oor en weer gekuier. Tonne vleis is in daardie jare in ons onderskeie agterplase gebraai en verorber, en al die probleme in Suid-Afrika en die wêreld is met ’n glas wyn of bier in die hand opgelos. Sy en Dorothea se drie dogters, Lisalet, Christa en Janienke, het voor ons oë grootgeword.

 

Die donkerste jare tagtig

Synde ’n letterkundige barbaar, het ek nie veel kennis geneem van Wium se literêre bydraes nie. Ek onthou wel één gediggie wat ek in sy debuutbundel gelees het, ’n skalkse, effens dubbelsinnige een, met die titel Sout- en peperpotjie:

 

Ons twee is maatjies

presies eenders

buiten ons gaatjies.

 

Waarvan ek deur die jare wel deeglik kennis geneem het, is sy reuse bydrae om die band tussen Afrikaans en Nederlands te behou en te bevorder. Selfs in die donkerste jare tagtig van die vorige eeu, toe Nederlanders die Afrikaners en Afrikaans massaal die rug toegekeer het, het hy (en Dorothea) ’n kersie aan Suid-Afrikaanse kant brandende gehou. (In Nederland is ’n soortgelyke rol deur enkelinge soos Hans Ester gespeel.) Destyds het dit nie veel verskil gemaak nie. Maar toe die klimaat ná 1990 verander, was die egpaar van Zyl se vlammetjie beskikbaar om ’n groter vuur aan te steek.

Deur Wium se moeite is in die tagtigerjare agtereenvolgende jong Neerlandici – Jos van Assendelft, Edwin Venema, Susan van der Ree en Siegfried Huigen – na die UWK gebring om in sy departement te help. In die geval van Susan, tans hoof van die Talencentrum aan die Christelijke Hogeschool Ede, het dié belegging groot dividende opgelewer, want sy is aktief betrokke by die bevordering van Afrikaans in Nederland.

In 1984 het Wium met groot moeite en met die hulp van die Nederlandse ambassadeur in Suid-Afrika dié land se – na my persoonlike mening – kortsigtige kulturele boikot deurbreek en ’n jaar lank na Utrecht teruggekeer om navorsing vir sy doktorale proefskrif te doen en stilweg vir Afrikaans in Nederland te werk. Vier jaar later het hy oor ’n aspek van W.F. Hermans se werk aan die Universiteit van Stellenbosch gepromoveer. Terselfdertyd het hy en Edwin Venema ’n gids vir onderwysers oor Nederlandse en Vlaamse jeugverhale saamgestel, terwyl hy en wyle prof. Tony Links (ook van die UWK) ook ’n bloemlesing Nederlandse kortverhale uitgegee het. Dit alles, saam met ander publikasies, het die band, al was dit maar ’n dun band, tussen Afrikaans en Nederlands gehandhaaf in ’n tyd dat politieke korrektheid alle bande radikaal wou deurknip.

 

Talle inisiatiewe

Toe pres. F.W. de Klerk die ANC en SA Kommunistiese Party in 1990 wettig en Nelson Mandela vrylaat, het sake begin verander. In 1991 het die egpaar Van Zyl die grensverskuiwende Colloquium van die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek in Utrecht bygewoon, waar hulle saam met 11 ander Suid-Afrikaanse neerlandici die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek help oprig het. Dit was ’n deurbraak.

In dié jaar was Wium ook die eerste Afrikaanse letterkundige wat ná die boikot-tydperk ’n doctoraal-kursus in Afrikaanse letterkunde in Nederland – aan die Vrije Universiteit van Amsterdam, om presies te wees – aangebied het. Hy het onmiddellik gevra dat daar terselfdertyd ’n ope kursus in die Afrikaanse letterkunde op die Keizersgracht aangebied word. Hy het daarvoor gesorg dat John Kannemeyer in 1992 eweneens aan die VU en op die Keizersgracht klasgee sodat die greep behou kon word. Toe hy in 1993 genooi is om weer ’n kursus aan die VU aan te bied, het hy in samewerking met Hans Ester en Braam de Vries opnuut op die Keizersgracht ’n kursus aangebied. Daarna het Braam en Wium ook nog by die UvA klasgegee, alles sonder enige vergoeding. Inderdaad het dit help sorg vir die momentum om die leerstoel aan dié universiteit, wat vroeër deur N.P. van Wyk Louw beklee is, weer ingestel te kry.

Uit betroubare bron verneem ek dat Wium vervolgens die bestuurslid by die Van Ewijck-stigting was wat gesorg het dat die bekleër van dié leerstoel ’n jaarlikse bedrag ontvang, genoeg vir ’n vliegkaartjie na Suid-Afrika.

Sedertdien is Wium by talle inisiatiewe betrokke om die bande tussen Afrikaans en Nederlands te versterk. In 1992-1993 was hy die eerste Suid-Afrikaanse neerlandikus om in die Afdeling Germanistiek van die Universiteit Warschau in Pole kursusse aan te bied oor die Afrikaanse letterkunde. In 2000 het hy as besoekende professor aan die Universiteit van Amsterdam weer ’n doctoraal-kursus in die Afrikaanse letterkunde aangebied, asook in 2001 in Warschau. Die totstandkoming vir die Kaapse Forum vir Neerlandistiek was sy inisiatief; hy was betrokke by die oprigting van die Huis der Nederlanden (tans die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, of SASNEV), die Kaapse Forum vir Neerlandistiek en het ’n belangrike rol gespeel in die aanknoop van bande met die Nederlandse Taalunie. Hy besoek Nederland en Vlaandere gereeld.

 

Om talent te herken

Ek wil my nie uitlaat oor Wium se bydrae as letterkundige ontleder nie; ek het nie genoeg insig daarin nie. Wat ek wel kan sê, is dat mense wat daardie insig het, oorloop van lof vir sy rol en die gehalte van sy akademiese werk. Heelparty daarvan, verneem ek, is in Suid-Afrikaanse akademiese tydskrifte gepubliseer, maar talle ook in Nederlandse, Vlaamse en selfs in Poolse publikasies.

Maar Wium se bydrae sal ook op ’n ander terrein gevoel word, naamlik die bevordering van Afrikaans onder bruinmense. So kan die sukses van minstens drie bruin Afrikaanse skrywers, te wete A.H.M. Scholtz, Abraham Philips en Anastasia de Vries, onder meer aan Wium se harde werk agter die skerms toegeskryf word. Wium herken talent as hy dit sien – en dit het dié skrywers in uitnemende mate. Wium het dié talent help ontgin. Terselfdertyd het hy geslagte bruin onderwysers en studente geesdriftig oor Afrikaans gemaak. ’n Mens vra jou af of dié rol ooit werklik beskryf sal kan word.

Wat dit alles des te merkwaardiger maak, is die beskeidenheid waarmee dit alles gepaard gegaan het. Wium is nie iemand wat graag op sy eie beuel blaas en grootdoenerig op die voorgrond staan nie. Trouens, ek weet hy sit ongemaklik in sy stoel en rondskuif terwyl hy dié woorde aanhoor. Hy is op sy gemaklikste as hy agter die skerms, in die stilte, sy werk kan doen, sonder dat dit aan die groot klok gehang word. Hy vind die resultaat veel belangriker as die publisiteit vir sy persoon. En noudat hy – op papier – as senior professor aan die UWK afgetree het, sal hy, soos dit hoort, harder as ooit tevore werk. En sal die resultaat, ook soos dit hoort, nog aansienlik groter word.

 

Dubbel en dwars verdien

Meneer die voorsitter, dames en here! Ek is trots daarop om Wium van Zyl my vriend te noem. Dit is vir my ’n voorreg om hierdie laudatio te kan lewer. Ek versoek u dus graag om nou die Van Riebeeck-penning aan hom te oorhandig. As íemand dit dubbel en dwars verdien, dan is dit hý.