Oor ʼn motorfiets, ʼn zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word

Auteur: 
Jaco Jacobs

Jeugroman oor die dood ‘wegholrit van spanning en avontuur’

 

In ’n dramatiese artikel beweer die Britse Daily Mail onlangs dat uitgewers pyn-en-lyding belustig geword het en sogenaamde teen sick-lit misbruik om ten koste van jong lesers en jong siekes, geld te verdien. Teen sick-lit is die modewoord wat jeugliteratuur beskryf wat oor karakters handel wat ongeneeslik siek is, of selfmoord pleeg of een of ander psigiese probleem het, soos om hulle self byvoorbeeld te skend. Die artikel verwys onder andere na John Green, wie se boeke blykbaar glad nie geskik sou wees vir beïnvloedbare jong lesers nie. John Green het die afgelope paar jaar meteoriese opgang gemaak met sy boeke The Fault in our Stars en Looking for Alaska.

Sick-lit is nie regtig ʼn nuwe genre nie, maar die afgelope twee of drie jaar beleef dit ʼn merkwaardige oplewing. Jong lesers is skynbaar ʼn bietjie vampier-moeg. Baie belangegroepe in die wêreld van kinder- en jeuglektuur is bly hieroor. Dit is hoog tyd dat kinders hulle inleef in die wêreld van terminale pasiënte wat net so oud is soos hulle, word gesê. Onderwerpe soos selfmoord en selfskending moet liewer bespreekbaar gemaak word in plaas daarvan om dit dood te swyg. Aan die ander kant is daar ook kritici wat probleme met dié soort van stories het. Die jeug bly immers ’n sensitiewe groep lesers wat deeglik beïnvloed kan word deur dit wat hulle lees.

 

‘Die dood as 0’

Jaco Jacobs was nog altyd ’n skrywer wat sy vinger op die pols van die nuutste trends in jeug- en kinderliteratuur hou. Jacobs skryf graag aktuele stories wat by die hedendaagse kind se verwysingsraamwerk aansluit, daarom is hy ook so ʼn gewilde skrywer. Dat dood een van die temas van sy nuutste boek, Oor ʼn Motorfiets, ʼn Zombiefliek en Lang Getalle wat deur Elf gedeel kan word is, is dan ook nie regtig ʼn verrassing nie. In die boek vertel Jacobs die verhaal van Martin Retief, wat graag moeilike somme doen, ʼn voorliefde vir bepaalde kleure het en innig lief is vir sy hoenders. Martin woon saam met sy ma, sussie en oom op die plotte buite die dorp. Die hoenderboerdery het hy by sy oorlede pa geërf. Op ʼn dag byt die buurman se hond een van die hoenders dood en so ontmoet Martin en Drikus mekaar.  Drikus ly aan ʼn seldsame, ongeneeslike siekte wat na iemand (Hodgkin) vernoem is.  Sy grootste droom is om ʼn zombiefliek te maak. Martin laat nie op hom wag nie en saam met Drikus werk hulle planne uit om ʼn eersteklas zombiefliek te skiet.

Jacobs se storie is ʼn wegholrit van spanning en avontuur en allermins ʼn wroegboek waarin derms uitgeryg word. Die verhaal word nugter vertel en hoewel ek aanvanklik gedink het dat daar ʼn gemis is aan meer diepte (méér woorde) oor Drikus se lyding en uiteindelike dood, het die storie, lank nadat ek dit klaar gelees het, in my kop bly draai. Soos dit met goeie wiskundesomme gaan, het Jacobs nie ʼn woord te veel of te min geskryf nie. ‘Ek (dink) aan die dood as nul. Nul is nie die einde nie, dis die middel. Dis halfpad tussen die positiewe en die negatiewe getalle – weerskante van nul strek twee rye getalle uit wat jou kop duiselig maak van opwinding omdat dit so oneindig groot is.’

Dit is ʼn besondere boek wat uiters toeganklik is vir kinders wat sukkel om aan die lees te kom. Jacobs se teikenlesers is so ongeveer tussen 11 en 14 jaar en die storie sal selfs die mees geharde seunskind van die ouderdom se hart vermurwe.

 

Die allerbeste manier denkbaar

Teen sick-lit soos wat John Green en Jaco Jacobs dit skryf, is nie iets waarvoor enige ouer bang hoef te wees nie. Natuurlik gaan die boeke jou kind beïnvloed, maar op die allerbeste manier denkbaar. Oor ʼn Motorfiets, ʼn Zombiefliek en Lang getalle wat deur Elf gedeel kan word is ʼn boek wat die jong leser sal help om te verstaan dat ʼn mens elke dag voluit moet leef – want om te lewe is nie vanselfsprekend nie – en dat dit nie saak maak as jy ʼn bietjie anders as die res is nie.

 

Solet Scheeres is schrijfster van jeugdboeken. Meer over Solets leven als Zuid-Afrikaanse in Nederland, over haar werk en haar opvattingen over jeugdliteratuur leest u op de website Storiewerf.

Photo: