Oor Pluk van de Petteflet en enorme vertalerspret

Oorspronkelijke auteur: 
Annie M.G. Schmidt
Oorspronkelijke titel: 
Puk van de Petteflet
Vertaler: 
Amelia de Vaal

 deur Amelia de Vaal 

 

Oor die enorme impak van Annie M.G. Schmidt se oeuvre op die Nederlandse kinderliteratuur kan boekdele geskryf word. Sedert die verskyning van Afrikaanse vertalings van Ottie en Minoes (2011), word fluks uitgebrei aan die beskikbaarheid van die “Annie M.G. Schmidt-fenomeen” onder die Protea-vaandel. Later vanjaar verskyn Pluk van de Petteflet se Afrikaanse eweknie by Protea Boekhuis – en om dié stukkie Nederlandse kultuurerfenis te kon vertaal, was nie net ’n voorreg nie, maar ook ’n ongekende plesier. Die wyse waarop ’n vertaling ’n mens dwing om met die “moere en boute” van ’n amperse kultuurinstelling om te gaan, is ’n belewenis waarvan slegs ander vertalers waarskynlik die binnepret sal besef. En Pluk ís ’n kultuurinstelling: meer as veertig jaar na sy oorspronklike verskyning, beklee dié boek steeds ’n ereplek in biblioteke, boekwinkels en kinderkamers dwarsoor Nederland.

 

Die vertaling van kinder- en jeugboeke is myns insiens ’n eerste tree tot groter bewusmaking van ander kulture en leefwêrelde. Storieboekkarakters en hulle wedervarings speel ’n sleutelrol in die besef dat daar ánder plekke, tale en gewoontes buite ’n kind se eie ervaringswêreld bestaan – en plant die saadjies vir latere belangstelling in, of ten minste, bewustheid van, ’n groter literêre sfeer. Net soos met vertaalde volwasse fiksie, streef ’n vertaler natuurlik na ’n naatlose teks wat “oorspronklik” moontlik voel in sy soepelheid, ritme en weerklank. Op dié manier verkry die vertaling ’n karakter in eie reg, wat die oorspronklike komplementerend eggo, eerder as presies verdubbel. Terselfdertyd is dit juis kosbaar wanneer die effense vreemdheid iets van die brontaal en -kultuur laat deurskemer, en só iets te kenne gee van die wêreld waaruit dit voortspruit. Pluk mag dalk benewens Nederlands ook Frans, Duits, Engels, Spaans en Pools praat… maar sy stoere selfversekerdheid en saaklike núgterheid maak van hom meer as net ’n besonderse fantastiekaraktertjie. Dit maak hom, wat my betref, Néderlands!

 

 

Pluk en sy plek

 

Hoewel ’n mens etlike bladsye kan bestee aan Pluk-as-karakter (wie ís hierdie klein grootmensie wat maatjies maak met kakkerlakke en tortelduiwe, maar moedersielalleen in ’n leë woonstel intrek en die wêreld vol ry met sy insleeplorrietjie?), wil ek vir die doel van hierdie artikel fokus op Pluk-en-sy-plek. Hoe “herkenbaar Nederlands” is die milieu en hoe vertaalbaar is dit na Afrikaans? Wat weeg swaarder in die uiteindelike doel met die teks: om herkenbaarheid te verleen, om getrou te bly aan die bronteks – of om ’n middeweg te vind wat nóg van Pluk ’n Suid-Afrikanertjie maak, nóg ’n jong gehoor met sy andersheid van hom vervreem? In dié opsig was die name van plekke en karakters ’n verbasend uitdagende struikelblok!  

Eers ’n belangrike tersyde: Annie M.G. Schmidt se teks bestaan natuurlik nie in isolasie nie! Net so herkenbaar en net soveel van ’n “handelsmerk” byna, is Fiep Westendorp se eindeloos amuserende illustrasies. Sou die illustrasies bepalend wees in vertaalkeuses, al dan nie? Suiwer visueel gesproke staan Pluk se milieu nie dramaties as “Nederlands” uit nie: Fiep Westendorp se fokus val beslis op karakter en handeling: Pluk met sy hoogwater-langbroek, die Stampertjes met hulle wilde boskasies, Aagje met haar pienk-pienk rokkie en pienk-pienk kamer). Dit is slegs op twee plekke in die hele boek waar die Nederlandse agtergrond prontuit sigbaar gemaak word: op p. 34, waar ’n woedende Mevrou Helderder met ’n Nederlandse vlag seemeeue verjaag, en op p. 164–165, waar klein Nederlandse vlaggies die motors vir die verjaarsdag-uittog vrolik versier. Die oranje-blanje-blou smelt egter so volkome saam met die kleurpalet van die illustrasies dat dit ’n agtergronddetail eerder as ’n fokuspunt word: ’n onoplettende leser van ’n vertaling (hetsy Engels, Duits, Frans of Afrikaans – die illustrasies word immers onaangeroer gelaat!) sou bes moontlik nie eers die vlae as Nederlands herken nie.

Die teks is egter deurspek van fyn kultuureie nuanses – en dit word ’n interessante oefening om te bepaal tot watter mate hierdie detail behoue moet bly in vertaling, al dan nie. Krities beskou, plaas Pluk se Petteflet-milieu hom duidelik in ’n Nederlandse woongebied (digbevolkte woon- en winkelstraatjies waar die kruidenier, die bakker, die boekhandelaar, die plein en die park binne ’n klein radius van mekaar ’n gemeenskaplike geheel vorm) en hoewel dit nie werklik ’n saakmakende rol speel in lesertjies se assosiasie met die teks nie, sorg subtiele kulturele algemeenhede tog vir interessante vertaalprobleme. Wat, byvoorbeeld, maak ’n mens van “frieten met saus”? Binne die Nederlandse friet-kultuur is “saus” baie beslis nie “ketchup” nie – terwyl Suid-Afrikaanse slaptjips nie net effens anders as netjiese frietjes lyk en proe nie, maar ook waarskynlik met sout en asyn of All Gold gekomplimenteer word! Sou ’n siek Afrikaanse dogtertjie se lus vir “een dropje” die oorhand kry wanneer sy in die bed moet bly … of sou sy eerder na Smarties of Jellytots smag? En wat sou ’n eg-Nederlandse lekkerny soos “eierkoeken” in ’n Afrikaanse konteks word? Plaatkoekies? Koeksisters? Uiteindelik word hierdie detail ’n heerlike ontdekkingsreis: nie net deur Nederlandse kultuurgoed nie, maar ook in ’n herkenning en herwaardering van ’n eie sosiokulturele konteks! Hoe dit vertaal word (terloops: slaptjips met tamatiesous, licorice en pannekoek het as wenners uit die stryd getree) is waarskynlik minder belangrik as die oorhoofse doel: om ’n teks te skep wat ongekunsteld en natuurlik klink en waarbinne die karakters getrou bly aan hulle oorspronklike aard en stem.

 

 

Eiename

 

Wat uiteindelik die allergrootste uitdaging vir die vertaling van dié teks was, was om keuses te maak oor die behoud, al dan nie, van oorspronklike eiename. In heelwat gevalle was die keuse voor die hand liggend, omdat die Nederlands en Afrikaans byna presies dieselfde klink en lyk. Só kon Meneer Pen Meneer Pen bly en die Majoor die Majoor. Aagje het Agie geword en die Stampertjes die Stampertjies (met slegs ’n verafrikaansing van die verkleiningsagtervoegsel). Selfs die potsierlike perd Langhors kon Langhors bly (die Engelse “horse” waarskynlik bekend genoeg selfs aan baie jong lesers om die beeld van ’n lang perd ook in Afrikaans duidelik te weergee). Maar hoe gemaak met die nare Mevrou Helderder? Met die eerste lees klink haar naam soos een van die máklikstes om te vertaal: daar is geen opmerklike verskil in betekenis nie, of hoe? Slegs enkele bladsye in die teks in, en die vertaler stuit egter op woordspel wat eenvoudig nie in die doeltaal dieselfde trefkrag het nie. Op p. 9 in die Nederlandse teks lees ons:

 

Die mevrouw Helderder zal nog eens alles doodspuiten wat leeft hier in de buurt. Ze is altijd bezig met de spuitbuis, tenminste als ze niet staat te boenen of te vegen. Té schoon, weet je. En té netjes. ’t Is haar nooit helder genoeg, het moet altyd helderder … daarom heet ze geloof ik zo.

 

Ten spyte van die feit dat dit nie onverstaanbaar sou wees indien “helderder” in hierdie konteks in Afrikaans behoue bly nie, het dit vir my gevoel of dit tog gestileerd sou oorkom in omgangstaal: ’n suiwer klank klink helder, ’n wolklose dag is helder – maar sou ’n kraakskoon huis of vlekkelose vloer “helder” wees? Die Engelse teks het my verder laat wonder – want hier word die naam nie direk vertaal tot “Mrs Brighter” nie, maar (substantiverend) “Mrs Brightner”. Dalk ’n subtiele sinspeling op ’n skoonmaakproduk? Ek het aan intensiewe vorme vir mevrou Helderder se tipe obsessie begin dink: silwerskoon, skitterblink … en uiteindelik gekies vir wat hopelik ’n natuurlike, omgangstaalvriendelike opsie is: mevrou Blinker. Só lees p. 9 se teks nou in Afrikaans:

 

Mevrou Blinker sal ook nog al wat leef hier in die buurt doodspuit. Sy’s altyd met die ding doenig, of liewer wanneer sy nie besig is om af te stof of te vee nie. Té skoon, man. En té netjies. Dis nooit vir haar skitterblink genoeg nie, dit moet altyd nog blinker. Ek dink dis waar sy aan haar naam ook kom …

 

Wat my uiteindelik bring by die belangrikste keuse van almal: die mannetjie in die hoofrol en die titel van sy verhaal. Sou Pluk van de Petteflet werklik in Afrikaans resoneer? Want by nadere beoordeling bepaal die vertaling van sy naam tóg tot ’n groot mater of sy woonstelbestaan ’n “algemene universeelheid” eerder as ’n bepaald Suid-Afrikaanse karakter verkry. ’n Mens sou die weliswaar die Pluk/Petteflet alliterasie kon behou (hoewel “pluk” nie in Afrikaans enige van die dapper astrantheid weergee waaroor dit in Engels – “plucky” – beskik nie), maar die knoop lê wat my betref verder as die voornaam. Die sprong van “flet” na die Engelse “flat” is een vokaalklank ver, maar dit sluit ’n registerproblematiek oop wat ongewenste taalslordigheid en ’n bepaalde sosiokulturele “losheid” aan ’n tydlose, klassieke teks opdring – en myns insiens hoegenaamd nie in die vertaling van ’n sprokiesagtige kinderverhaal pas nie. Onmiddellik het ek my na die talryke bestaande vertalings van Pluk gewend – en bevind dat ek nie die eerste is om met die outentiekheid-versus-natuurlikheid-vraagstuk te worstel nie!

By die Engelse titel, Tow-truck Pluck, word die oorspronklike klank van die naam behou – maar “Petteflet” verdwyn en die insleeplorretjie word betrek om rymende ritme aan die titel te verleen. (In die teks self word die woonstelgebou die Pill Building. Waarom juis dié naam, weet ek sowaar nie!).

Soortgelyk is die Duitse titel, Pluck mit dem Kranwagen, waar weereens brontaalgetrou klankmatig by “Pluk” gehou word. “Petteflet” verdwyn egter totaal: nie net fokus die titel op insleeplorrie eerder as die woonplek nie – die gebou bly in Duits heeltemal naamloos, met ’n (presiese, dog saai?) verwysing na “auf dem 20. Stock” (op die twintigste vloer) as die enigste rigtingwyser na Pluk se baie hoë blyplek. 

In Noors word die karaktertjie én sy woonstelgebou se name gewysig ter wille van taal-eie alliterasie: Totto i Tittuttarnet (“Tittuttarnet”, is ek vertel, is die Noorse ekwivalent vir “torinkie”). En in Spaans word “Pluk” behou, maar alliterasie én verwysing na die woonstelgebou verdwyn: Pluk el del Torrificio.

Hoe gemaak met Afrikaans, dan? Ná baie wik en weeg (en ’n ingewing van my slim baas, dr. Nicol Stassen!) het die musikaliteit van alliterasie die deurslag gegee – en is Wannie van die Woonstel gebore. Wannie vannie … ’n lekker gesproke “swing” vir ’n kêrel met ’n houding, of hoe?

Of Wannie en sy avonture dieselfde impak op Afrikaanse lesers sal hê as sy Nederlandse tweeling? Ek kan maar net so hoop!

 

 

Amelia de Vaal woon sedert April 2011 in Portland, Oregon, van waar sy haar band met Suid-Afrika en Afrikaans lewend hou deur voltyds vir Protea Boekhuis te redigeer en te vertaal. Hoewel sy ook heelwat van Duits en Engels na Afrikaans vertaal, is haar betrokkenheid by Nederlandse tekste – beide as redakteur en vertaler – een van haar grootste passies. Met ’n verre voorvader wat in die Geertekerk in Utrecht gedoop is en ’n hart wat outomaties begin tril as sy op Schiphol uitstap, is sy vas oortuig daarvan dat sy ’n onuitwisbare genetiese predisposisie vir Nederlands het (of miskien in ’n vorige lewe die dogter van ’n Keisersgracht-koopman met literêre aspirasies was …).

 

Wilt u reageren? Stuur dan een e-mail naar: redactie@maandbladzuidafrika.nl.