Zoekveld

Nuwe stemme verower die wêreld

Terwyl geleenthede in Suid-Afrika opdroog, vind al meer swart operasangers hul heil in die buiteland.

 

Stephanie Niewoudt

 

Pretty Yende‘Jy weet jy is in die nuwe Suid-Afrika wanneer swart mans opera sing’, het Loyisa Bala, lid van die sanggroep Bala Brothers in Desember by ʼn huldigingskonsert vir wyle Nelson Mandela in Kaapstad geskerts.

Twintig jaar ná Suid-Afrika se eerste nie-rassige demokratiese verkiesing, is daar ʼn bittersoet waarheid in dié stelling. In die apartheidsjare was opera-opleiding swart Suid-Afrikaanse sangers selde beskore. Die bordjies is intussen egter verhang, en deesdae toer Bala en sy broers, Zwai en Phelo, wat bekend is vir hul vermenging van Afrika- en operaklanke, die wêreld vol.

 

Sterre uit die townships

Suid-Afrikaanse operasangers was nog altyd hoog aangeslaan in die buiteland, maar in die ou dae was hulle meestal wit – mense soos die bekende Mimi Coertze en Deon van der Walt. Deesdae is dit toenemend die land se swart stemme – soos Pretty Yende, Pumeza Matshikiza, Hlengiwe Mkhawnazi en Makupupayane Senaoana – wat operagehore wêreldwyd laat toustaan vir kaartjies.

Die meeste van hulle het in arm Suid-Afrikaanse townships grootgeword, waar sang net so natuurlik deel van die lewe is as suurstof.

‘Wanneer die mense in die townships gelukkig is, sing hulle. En wanneer hulle hartseer is, sing hulle ook’, sê Mpendulo Yawa, een van die viermanskap wat saam met Siyabulela Gqola, Xolani November en Loyiso Dlova die groep Gugulethu Tenors uitmaak. Net soos die Bala Brothers is die Tenors ook bekend vir hul vermenging van inheemse en operaklanke.

‘Ons word groot in ʼn omgewing waar sang verweef is met die lewe. Ons is altyd besig om te sing’, voeg Yawa by.

Hoewel die Bala Brothers en die Gugulethu Tenors nie net klassieke musiek sing nie, het hulle ook soos die meeste operasangers wat deesdae bekendheid verwerf, as kind in skool- en kerkkore gesing.

 ‘Swart sangers sing sonder inhibisie omdat hulle van kleins af blootgestel word aan musiek. Hulle is nie bang om hul stemme te laat hoor nie. Hulle sing wanneer hulle werk. Hulle sing wanneer  ʼn kind gebore word. Sang is ʼn natuurlike deel van hul daaglikse lewe’, bevestig Werner Nel, afgetrede professor in sangopleiding aan die Noordwes Universiteit.

 

Gugulethu TenorsMin geleenthede in eie land

Hoewel die Tenors se gehore grootliks in Suid-Afrika is, het sangers soos Yende en Matshikiza lankal hul heil in die buiteland gaan soek. Die ironie is pynigend. Onder die ANC, wat in 1994 aan bewind gekom het, is staatsgeld aan die kunstebedryf onttrek. Teater-, ballet- en operageselskappe is gedwing om weens die gebrek aan finansiële steun te ontbind.

Ondanks uitstekende opleiding wat steeds by veral die South African College of Music (SACM) by die Universiteit van Kaapstad plaasvind, is daar, met enkele uitsonderings, nie veel geleenthede vir operasangers om in Suid-Afrika op te tree nie. Kaapstad Opera is een van min geselskappe wat nog operas aanbied, en word alom beskou as die belangrikste in die land.

‘Of hulle nou swart of wit is, hier is bitter min geleenthede vir operasangers in Suid-Afrika’, sê Virginia Davids, hoof van die sangopleiding aan die SACM. Yende het onder meer by haar opleiding ontvang.

Davids was een van die eerste bruin soprane wat in Suid-Afrika gehore verower het. Sy is sowat tien jaar gelede aangestel as professor in sangopleiding aan die SACM.

‘Dit maak my hartseer dat ons mense hier oplei maar dat hulle dan elders moet gaan werk omdat hier nie vir hulle geleenthede is nie’, sê Davids.

Sy sê sy kry gereeld uit die buiteland oproepe van ‘my sangers’.

‘Ons sangers raak beroemd in die buiteland, maar dit is ʼn moeilike pad. Hulle raak eensaam daar en dan bel hulle huis toe.’

 

Die wêreld lê aan hul voete

Suid-Afrika se verlies, is – soos die spreekwoord lui – die buiteland se aanwins, en operasangers van hier word wêreldwyd geleenthede aangebied waarvoor hulle eenvoudig nie nee kan sê nie.

Matshikiza is byvoorbeeld onder kontrak by die Stuttgart Staatsopera. Yende het al in die belangrikste operahuise van die wêreld opgetree, en het in 2013 die Metropolitan in New York verower as Adèle in Rossini se Le Comte Ory. Toe sy in dié jaar twee keer na haar moederland teruggekeer het vir optredes, was kaartjies weke vooruit al uitverkoop.

Die jong tenoor, Given Nkosi, wat ook onder Davids studeer het, was onder meer vir drie maande lank verbind tot die Israeli Opera en is genooi om in Bulgarye ʼn meesterklas saam met Raina Kabaivanzka by te woon. En die sopraan Nokrismesi (Kimmy) Skota is voltyds deel van die Nederlandse violis André Rieu se geselskap, en tree wêreldwyd op. Rieu noem haar die Swart Diamant van Suid-Afrika.

 

Pumeza Matshikiza

 

Die koor as wegspringplek

‘Dis nie vir ons nodig om swart sangstudente na ons toe te lok nie. Hulle vind vanself hul pad na ons toe’, sê Davids.

Hoewel koordeelname vir talle swart sangers deure oopmaak, het Matshikiza aanvanklik eers studeer om ʼn landmeter te word.

‘ʼn Onderwyser het voorgestel ek bekwaam my in hierdie rigting want volgens hom sou dit werksekerheid in die toekoms bied.’

Maar die jong vrou wat ook in al wat koor is, gesing het, se pad het haar uiteindelik by Virginia Davids uitgebring.

‘Ek het altyd van sang gehou. Oor roem het ek nog nooit gedroom nie en dit is steeds nie iets wat ek nastreef nie. Ek het egter wel nog altyd gedink dat ek wyd wil reis en dit kry ek reg danksy dit wat ek nou doen.’

Sy glo dat haar ervaring in kerkkore haar voorberei het vir ʼn ernstige sangloopbaan.

Pretty Yende het al verskeie kere in onderhoude gesê sy het eers in haar laaste skooljaar agtergekom presies wat operamusiek is. Sy het toevallig ʼn advertensie vir die Britse lugredery waarvoor operamusiek as agtergrond gebruik is, gesien, en het onmiddellik besef sy wil die soort musiek maak. Beurse het dit vir haar moontlik gemaak om aan die South African College of Music te studeer.

Die Gugulethu Tenors se sangpad kom ook via kooroptredes. As individuele sangers wou hulle 14 jaar gelede – toe hulle nog op die skoolbanke gesit het – deelneem aan ʼn sangwedstryd.

‘Ons het egter besef ons moet eerder nie teen mekaar meeding nie, maar eerder as ʼn groep deelneem’, vertel Loyiso Dlova. Hulle het die kompetisie in hul kategorie gewen en hul loopbane as sangers van ernstige musiek het begin. Hulle het onder meer tydens die openingseremonie van die Fifa Sokkerwêreldbeker gesing, en voor John Travolta, Oprah Winfrey en Chris Rock opgetree.

Xolani November, die derde lid van die Tenors, was as vyfjarige so betower deur koormusiek dat hy sy ouer sussie na haar kooroefening toe gevolg het. Toe die koorleier hom hoor sing, is hy ʼn plek in die koor aangebied.

 

Toewyding

Opera Africa (OA), met sy hoofkantoor in Johannesburg, is al sedert 1994 betrokke by die opleiding van sangers en die bevordering van opera in townships rondom Durban en Bloemfontein, en in Gauteng.

‘Ons gee aan jong sangers  ʼn grondslag vir ʼn operaloopbaan in ʼn land waar daar min geleenthede is’, sê Sandra de Villiers, hoof uitvoerende beampte van dié geselskap.

‘Een van ons studente, Kelebogile Boikanyo, wat in 2012 as 24-jarige die gesogte Standard Bank Young Artist Award (Musiek) ontvang het, woon deesdae in Kopenhagen en is besig om internasionaal opgang te maak.’

De Villiers sê die belangstelling in operamusiek is deurentyd besig om al sterker te word in swart gemeenskappe.

‘Jong mense in die townships se drome om opera te sing, word al dwingender. Dit gebeur in ʼn land waar befondsing van die private sektor die afgelope paar jaar erg gesny is weens die wêreldwye ekonomiese krisis. Opera Africa is baie afhanklik van die private sektor vir ons voortbestaan. Dit is ook moeilik om nuwe gehore te bou weens die min en ongereelde opera-produksies. Omdat ons ervaring en kundigheid verloor, word dit al moeiliker om standhoudende opleiding en ervaring te bied – iets wat noodsaaklik is om ons kunsvorm deurentyd te vernuwe.’

Volgens De Villiers is dirigente en musiekregisseurs van Amerika en Europa sonder uitsondering beïndruk met die gehalte en eiesoortige resonans van die stemme van swart sangers.

‘In die algemeen is dit “groot” stemme wat geskik is vir opera. Die sangers kan sonder klankversterking in teaters optree. In die buiteland gryp hulle die kans om op te tree met oorgawe aan. Geleenthede om ʼn goeie bestaan te maak en ʼn mens se passie uit te leef, is maar min en daarom is die sangers hoogs gemotiveerd. Gevolglik hou operahuise van ons mense se toewyding.’

 

Bala Brothers

Onafhanklike geselskappe

Ondanks die afwesigheid van groot operageselskappe in Suid-Afrika, het ʼn aantal onafhanklike, klein geselskappe die afgelope paar jaar die lig gesien.

Gauteng Opera (voorheen Black Tie Ensemble) bestaan al sowat twee jaar. Die hoof van die maatskappy, Marcus Desando, ʼn tenoor, het in ʼn onlangse onderhoud verduidelik een van hul doelwitte is om meer moderne operas aan te bied.

‘Ons gee ook opdrag vir nuwe operas wat Suid-Afrika se geskiedenis weerspieël.’

Die geselskap, wat onder meer befondsing kry van die nasionale Lotery, het reeds ʼn kontrak met Pretty Yende gesluit om in 2015 in Rigoletto te speel. In 2013 het een van die geselskap se soprane, Caroline Nkwe, na Duitsland vertrek om haar studies aan die Hochschule für Musik in Lübeck voort te sit.

Ook in Gauteng het die tenoor Herman Theron die Reakopana Opera Festival twee jaar gelede begin om werkgeleenthede vir plaaslike sangers te skep. Hy werk nou saam met Yves Senn van die L'Avant-scène Opéra in Switserland. Die operette Candide van Leonard Bernstein met Switserse en Suid-Afrikaanse sangers was ʼn uitvloeisel van dié vennootskap. 

 

Dit artikel is oorspronkelijk verschenen in Maandblad Zuid-Afrika, jrg. 91, nr. 3, maart 2014, p. 64-65.