Zoekveld

"My werk moet méér wees as net 'n soort Suid-Afrika 101"

Interview met nieuwe hoogleraar Margriet van der Waal

 

deur Herman Scholtz 

 

Uiteindelik mag die naam van die nuwe hoogleraar Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam – ‘n leerstoel befonds deur Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland – bekend gemaak word! ‘n Gesprek met Margriet van der Waal oor haar agtergrond, haar belangstellings en haar planne vir die toekoms.

 Margriet van der Waal | Foto: Dirk Gillissen UvA

 

“Kyk daar links wat teen die gebou se muur weggesteek is.”

“(weggehaald)”, lees die amper onsigbare letters wat gevorm is deur bakstene wat weggelaat is uit die gebou in die ou Joodse kwartier van Groningen. ’n Obskure gedenk-kunswerk vir die volksmoord.

“Is dit nie ongelooflik nie? Die boodskappe wat in die hele straat gelos word vir diegene wat dit net wil sien,” sê dr. Margriet van der Waal terwyl sy doen wat sy die graagste doen: om vir ander te wys wat tussen die lyne staan.

Margriet is die nuwe hoogleraar in Suid-Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam.

Dié leerstoel, wat in 1933 ingestel is en in die 1980’s verdwyn het maar intussen herleef het , het ten doel om die Suid-Afrikaanse taal- en letterkunde in Nederland te bevorder.

Prof. Ena Jansen het dié rol sedert 2002 gehad en het verlede jaar uitgetree.

“Dit is baie groot skoene om te vul,” sê Margriet in haar tuisstad. Maar dis ’n uitdaging wat sy graag aanvaar.

Om die wêreld van Suid-Afrikaanse letterkunde vir studente te ontsluit; om hulle nie net die woorde te laat lees nie, maar mense ook te laat verstaan watter faktore die woorde gevorm het, al is dit versteek soos die straatkuns van Groningen; om te wys wat buite die boekblaaie afspeel; om Suid-Afrika 10 000 km daarvandaan te laat lééf.

“Een ding weet ek: my werk  moenie ’n inleiding of ’n soort Suid-Afrika 101 wees nie.”

 

Nederlands én Suid-Afrikaans

Margriet staan in twee wêrelde.

Sy is gebore in die Suid-Afrikaanse hoofstad, Pretoria, maar albei haar ouers is Nederlanders.

Haar ma, ’n verpleegster, het in die 1970’s na Suid-Afrika geëmigreer en haar pa, ’n antropoloog, as ’n kind in die 1950’s.

Terwyl sy opgegroei het tussen die smeltkroes van kulture in Johannesburg, was die Nederlandse invloed op haar opvoeding altyd teenwoordig: iets wat sy in retrospek besef vir haar ’n waardevolle insig in die ooreenkomste en verskille tussen dié lande bied.

’n Suid-Afrikaner is sy egter in murg en been. Haar moedertaal is Afrikaans. Haar aanvanklike opleiding was in Afrikaans (sy het aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit tale studeer en onder die bekende Suid-Afrikaanse letterkundige Willie Burger haar honneursgraad voltooi). En ja, sy het selfs soos meeste Suid-Afrikaners met die mond gesoengroet.

“Dis iets wat ek glad nie mis nie,” lag sy. Waar sy vandag sit in ’n koffiewinkel in Groningen voel sy bepaald Nederlands en dankbaar vir die kusvrye groet van ’n mede-Suid-Afrikaner.

“Ek het in 2000 gedink ek kom net vir ’n jaar Nederland toe,” sê sy dan. En sestien jaar later is haar huis in Groningen saam met haar man, Stefan Couperus, en 5-jarige dogter. En ’n kat.

Sy gebruik “ons” wanneer sy praat van Suid-Afrikaners én Nederlanders.

“Ek waardeer die kleinskaligheid van Nederland en my stad. ’n Mens kan hier loop. En Nederlanders is baie direk. Dit maak dinge soms soveel makliker. Dis pragmaties.”

Van Suid-Afrika waardeer sy weer die “vriendelikheid en erkentlikheid” van die mense rondom haar wat haar gevorm het.

Sy besoek Suid-Afrika nog gereeld om haar ouers, deesdae in Stellenbosch, en broers in Johannesburg en Kaapstad te besoek.

Margriet het met ‘n beurs van die Stichting Studiefonds voor Zuid-Afrikaanse studenten haar meestersgraad by die Rijksuniversiteit van Groningen voltooi. Die titel van haar skripsie was Does it all end in shame? A look at the decline of Eurocentrism in South Africa with reference to Disgrace by J.M. Coetzee.

Sy het haar doktorsgraad by dieselfde universiteit voltooi onder die begeleiding van proff. EJ Korthals Altes en G Dorleijn. 

Haar proefskrif, wat sy in 2006 verdedig het, is getiteld: The Battle over the Books. Processes of Selection in the South African Literary Field.

’n Sentrale deel van die navorsing het gefokus op opvattings oor letterkunde in literatuuronderwys en literatuurgeskiedskrywing. Dit bevraagteken ook waarom mense lees en watter funksie letterkunde in die samelewing verrig: is dit ’n instrument wat ons help om die werklikheid betekenis te gee, of is dit ’n spieël van die samelewing?

Tussendeur die studies het sy begin doseer in Gronigen waar sy tans ’n senior dosent in literatuur en kultuur is.

Haar diepe belangstelling in dié onderwerpe het al tot verskeie openbare lesings en publikasies gelei.

Sy het al geskryf oor die narratief rondom vlugtelinge, Suid-Afrikaanse studente se uitdaging van “wit” kurrikulums, Nederlandse perspektiewe op versteekte rassisme in Afrikaans en Suid-Afrikaanse letterkunde, en, nader aan die huis, Zwarte Piet…

“Dit verbaas my dat mense vasklou aan Zwarte Piet,” sê sy versigtig. Dié omstrede tradisie het al soveel gedaanteverwisselings ondergaan – van skoorstene wat plek maak vir verwarmers tot ’n klemverskuiwing in die tradisie waar dit nie meer algemeen vir dissiplinering van kinders gebruik word nie – en tog is Zwarte Piet elke jaar ’n sensitiewe onderwerp.

Margriet kan ure praat oor dié sosiale kwessies en jare se interaksie met Nederlandse studente het haar ’n besondere insig gegee oor die veranderende tye.

Voor 1989, sê sy, was die ideologiese stryd in Europa sentraal tot mens se historiese bewussyn.

“Die nuwe generasie is anders. Hulle is nie bang vir kommunisme nie. Hulle is bang vir terrorisme, hulle dink oor groen kwessies en kernkragrampe en sosiale geregtigheid.”

 

Meerstemmigheid

Die universiteit in Groningen hoef Margriet nie te groet nie.

Dit sou ’n groot verlies vir dié universiteit gewees het. Sy het immers in 2015 ’n Teaching Excellence Fellowship van die universiteit gekry en was kort voor dit 'n finalis vir die prys as dosent van die jaar in die fakulteit letterkunde.

Margriet sal een keer ’n week Amsterdam toe pendel vir haar verpligtinge van die leerstoel. Dis ’n raps meer as twee ure met die trein.

“Gelukkig het Nederland ’n goeie treinstelsel. En ek kan lees en werk terwyl ek pendel. Dit behoort nie ’n probleem te wees nie.”

Sy beplan ook om meer gereeld in die Randstad te wees – ook wanneer die universiteit in reses is – om aan ander projekte soos die Week van die Afrikaanse roman, Afrovibes en Winternachten deel te neem.

“Ek ken reeds ’n paar mense in Amsterdam en Leiden met wie ek baie graag wil saamwerk.”

Margriet sien veral uit om te doseer in die velde waarvoor sy ’n groot passie het. Sy kon nie in Groningen (Suid-)Afrikaanse letterkunde alleen doseer nie.

In haar nuwe pos is daar egter die geleentheid om spesifiek oor die onderwerp van Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse letterkunde haar kennis te deel.

“Daar is ’n ook ’n groot behoefte aan en belangstelling van doktorale kandidate waaroor ek baie opgewonde is.”

Die leerstoel is veel wyer as Suid-Afrikaanse letterkunde en dit omvat ook die geskiedenis en politiek van Suid-Afrika. Maar watter skrywers se werk sal sy voorskryf om ook vir studente ’n blik op die sosio-politieke landskap van Suid-Afrika te gee?

“Dis ’n lastige vraag,” sê sy diplomaties. Dis moeilik om name uit Margriet te trek. Selfs waar sy in ’n boekwinkel staan vir ’n foto is sy besluiteloos oor watter outeur se boek sy moet optel. Die vloek van ’n letterkundige wat nooit kan besluit watter werk uitgelig behoort te word nie, sou ’n mens kon sê.

“Daar is natuurlik ’n kanon van letterkunde,” verduidelik sy. Maar dis nie so eenvoudig om net die skrywers te kies met die meeste letterkundige kapitaal of wat befaamde pryse op hul kerfstok het nie.

“’n Mens moet ook kyk na temas en wie daaroor geskryf het. Meerstemmigheid is vir my baie belangrik.

“Een van die temas wat ek wil aanraak is diversiteit binne ’n globaliserende wêreld. Ook om te kyk na verskillende perspektiewe en ervarings van ’n transformerende Suid-Afrika.

“Dit maak net logies sin om die leerstoel verder te trek as letterkunde. Dit gaan oor letterkunde in ’n kultuurwetenskaplike konteks.”

Margriet beplan om ook ander kulturele uitinge soos musiek en video te gebruik waarby studente aanklank vind en om die kursusinhoud te laat resoneer met die res van hul studies.

Dit beteken egter nie sy wil die wiel van vooraf uitvind nie.

“Ek is diep onder die indruk van wat Ena vermag het. Uiteindelik sal ek graag daarop wil voortbou.”