Zoekveld

Maboneng

 

Johannesburg word dikwels as ‘n gevaarlike stad beskou. Maar in die hart van hierdie stad is ‘n opwindende, kreatiewe, nuwe gemeenskap besig om te ontstaan: Maboneng Precinct, die ‘plek van lig’.

 

Tekst: Rentia Bartlett-Möhl; foto: Stefan Arno Möhl

 

‘Die konnotasie van Johannesburg as mynkamp bly steeds kleef’, sê die 21-jarige Bheki Dube op ‘n Sondag in Januarie by een van Johannesburg se lewendige nuwe kreatiewe gemeenskappe: Maboneng Precinct, ’n stedelike buurt in die ooste van Johannesburg se middestad.

Bheki Dube staan bekend as Maboneng se ‘buurtportier’ wat dié buurt en sy mense soos die sneakers waarmee hy daagliks op sy skaatsplank ry ken. Hy is gebore in Troyeville – omtrent een kilometer weg van Maboneng, het skoolgegaan in Newtown, ‘n fotografiekursus by die Market Photoworkshop van David Goldblatt gedoen en van kleins af daagliks met sy skaatsplank van Troyeville na die stad gery. Bheki het dus die transformasie van die woonbuurt wat in 2009 begin het, eerstehands meegemaak. Vanaf  2010, toe die Bioscope filmteater in wat vandag as Maboneng bekend staan, oopgemaak het, was hy die eerste bestuurder. Vanaf 2011 was hy betrokke by Mainstreet Walks, wat begeleide toere deur die strate van die stad vanaf Maboneng organiseer en mense die verborge skatte van die stad laat ontdek. Onlangs het hy Maboneng se eerste backpackers – Curiocity Backpackers – begin.

 

‘n Plek waar mens nie tuis wóú voel nie

Ons gesels oor Johannesburg as mynkamp om die verandering wat die ontwikkelaars van Maboneng in dié stad teweeggebring het te verstaan. Sedert goud in die 1880’s op die hoëveld ontdek is, is Johannesburg ’n goudsoekerstad. Mense van oraloor stroom na hierdie Afrikastad van uitsonderlike kontraste met die hoop om ’n goudklont te vind. Hierdie progressiewe, vinnig-veranderende, tydelike ingesteldheid het ook sy merk op die stedelike beplanning en ruimtelike politiek van Johannesburg gelaat. ‘Mense kom daagliks in duisende motors, taxi’s en met die Gautrein van verskillende areas buite die stad om in Johannesburg te werk, en keer saans weer terug na hulle woonhuise in woonbuurte in die Noordelike voorstede, krotbuurte, townships, sekuriteitskomplekse – alles wonings buite die middestad. Die stad is bedoel as tydelike mynkamp wat mens, nadat goud gevind is, so vinnig moontlik weer verlaat’, filosofeer Bheki.

Ook is die middestad ‘n plek waar mense vir meer as twintig jaar lank bang was om hulle voete in te sit omdat die stigma daarvan as gewelddadige, onveilige, vuil en vervalle ruimte so lank in mense se verbeeldings gehuisves het. ‘Hierdie deel van die stad was ‘n gemors’, vertel Bheki van sy grootwordjare in Troyville en Newtown. ‘Gekaapte geboue, vervalle geboue, dwelms... Toe ek grootgeword het, as jy 16:00 nog nie tuis was nie, het jou ouers bekommerd geraak. Dit was ‘n plek waar mens nie tuis wóú voel nie.”

 

Plek van lig

Maboneng Precinct is besig om hierdie gevaarlike, vervalle en tydelike stigma van Johannesburg suksesvol te transformeer. Dit skep ‘n ruimte vir mense om nie net te werk nie, maar ook te leef, te ontspan, fees te vier, te eet, te drink, te dans, te gesels en in die proses kreatiewe projekte te inisieer – alles in ‘n area wat eers no-go was.

Jonathan Liebmann is Maboneng se visionêre eiendomsontwikkelaar wat verby die gemors van die middestad gekyk het en die potensiaal daarvan as kreatiewe gemeenskap raakgesien het. Dhube vertel dat Jonathan, nadat hy oorsee gaan toer het en gesien het hoe ander stede in die wêreld funksioneer, met die idee opgekom het om ‘n ruimte in Johannesburg se middestad te ontwikkel met ‘n gemeenskap-gebaseerde ekonomie in die vooruitsig. Hy het die driedubbel hoë plafonne en geskiedenis en karakter van die geboue in die ooste van Johannesburg se middestad raakgesien en begin met Arts on Main, ‘n kombinasie van galery, studio en kantoorspasies wat in 2009 oopgemaak het. Die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar William Kentridge was een van die eerste kunstenaar wat sy ateljee na Arts on Main verskuif het.

Die area wat rondom Arts on Main ontwikkel het, het ‘n residensiële komponent gehad en is ‘Maboneng’ gedoop – ‘n Sotho woord wat ‘plek van lig’ beteken – wat Liebmann se idee van ‘n ‘verligte gemeenskap’ artikuleer. Die eerste gebou wat deel van Maboneng gevorm het, was Main Street Life en is daarop gemik om ook sy bewoners van kreatiewe werksgeleenthede te voorsien met werkspasies en ateljeeruimtes as gemeenskaplike ruimtes op elke vloer. Op die boonste verdieping van Main Street Life, is die Twelve Decades Hotel gebou met twaalf kamers geïnspireer deur  die twaalf dekades van Johannesburg se onstuimige geskiedenis.

Vanaf 2010 is die weeklikse kos- en ontwerpmark Market on Main the place to be in Johannesburg. ‘n Feestelike atmosfeer met heerlike kos, kreatiewe drankies, handgemaakte dekoritems en tweedehandse en ontwerpersklere trek massas mense weekliks na die middestad. Dit is hier waar jy die nuwe drukwerk van Diane Victor kan bewonder, klere van Black Coffee kan aanpas, ‘n Portugese burger kan eet en ‘n drankie kan geniet op ‘n terras wat uitkyk oor die stad.

Die ontwikkeling rondom Maboneng het ook ‘n positiewe effek op die gemeenskap in die direkte omgewing gehad. Eienaars van geboue in die omgewing rondom die Maboneng-precinct het hulle geboue begin opknap, besighede het hulle dienste uitgebrei om aan nuwe behoeftes te voldoen. Inwoners van Main Street Life, Revolution House en The Main Change inisieer gemeenskapsprojekte in die omgewing – byvoorbeeld die opgradering van kleuterskole en die ontwikkeling van jeugbewussynsprogramme. Ook word daar in die nabye toekoms die Artisan Res beplan – wat behuising aan studente in die omgewing gaan verskaf, asook MOAD: Museum of African Design.

 

Om met nuwe oë na die stad te kyk

‘Vandag is Maboneng so ‘n suksesvolle plek omdat enige entrepreneur hom of haarself  hier kan huisves en die plek sy of haar speelruimte kan maak’, beweer Bheki. Dit wys dat dit moontlik is vir mense om hulle kreatiewe, besigheid- en leefruimtes te kombineer in ‘n stad soos Johannesburg. En dat dit nie nodig is om agter hoë sekuriteitshekke in afsondering van die res van die stad te woon nie. ‘Vir ‘n gesonde sosiale lewe het ons ruimtes soos hierdie nodig’, sê Bheki. ‘Ruimtes wat wys dat Johannesburg as stad ‘n volhoubare plek kan wees – ‘n stad wat meer bied as die tydelikheid van ‘n mynkamp – ‘n stad waar almal welkom is.’

Maboneng is ‘n goeie voorbeeld van ‘n kreatiewe gemeenskap. ‘n Plek waar kuns, kultuur, handel, besigheid en die gemeenskap met mekaar geskakel word. Dit het vir Bheki dit moontlik gemaak om sy passies – fotografie, skaatsplankry, toerisme –  te kombineer met die plek waar hy woon. Teen die mure van sy backpackers, stal Bheki sy eie foto’s kompleet met ‘artist statement’ uit. Op die begeleide toere wat hy aanbied, probeer hy mense oortuig om Johannesburg se middestad weer ‘n kans te gee. Deur deur die strate met sy skaatsplank te ry, kamera in die hand, het hy geleer om met nuwe oë na die stad te kyk.

 

Net twee blokke verder van Maboneng is die middestad van Johannesburg nog grootliks vervalle, vuil en onveilig. Verdwaal jy daar, besef jy watter risiko dit was om potensiaal in die stedelike landskap van Johannesburg te sien en dit te probeer transformeer tot iets wat leef- en werkbaar is. Dit is opmerklik dat Maboneng geen versperrings of sekuriteitshekke het wat dit van die res van die stad skei nie. Dit probeer dus klaarspeel met Johannesburg as stad van ruimtelike versperrings. Bheki Dube is deel van ‘n jong generasie wat in ‘n gevaarlike, vervalle stad grootgeword het en nou die geleentheid kry om daardie selfde stedelike landskap op spelerige, vernuwende en betekenisvolle wyse te verander.

 

Dit artikel is oorspronkelijk verschenen in Maandblad Zuid-Afrika, jrg. 91, nr. 3, maart 2014, p. 58-59.