Katryn

Type: 
Historische en streekromans
Auteur: 
Winnie Rust

 

Winnie Rust se laaste boek is soos haar voriges ‘n sekure herskepping van die lewe in en om Wellington in die Boland binne ‘n sekere tydvak. Blink Ben Marais en Katryn se verhaal begin met die koms van die eerste trein na Wellington en die toenemende verandering wat dit in die gemeenskap teweeg bring. Dwarsdeur die verhaal bly die trein die simbool van verandering, van vreemde invloede en die bevraagtekening van die bekende en veilige maniere van dinge doen.

Dit is dan ook die kern van die storm wat met sy liefde vir Katryn in Ben se lewe losbars. Kan hy die familieplaas en die bekende dinge behou, maar ook sommige van die waardes waarmee hy grootgeword het, verwerp? Watter waardes is werklik die moeite werd om te behou? Waar eindig godvresenheid en waar begin bekrompenheid en skynheiligheid?

Ben probeer ‘n brug slaan tussen sy wêreld van bevoorregting en rigiede sienswyses en Katryn se wêreld van groter vryheid, maar ook groot pyn. Hy moet leer saamleef met die wolf en die lam wat in elke mens teenwoordig is. Hy is nie gemaklik in sy bevoorregte posisie as erfgenaam van ‘n spogplaas nie, hoewel hy op sy manier verknog is aan die grond. Hy dink vernuwend en wil nie bloot voortgaan met die ou metodes en boerderyrigtings nie. Sy begeerte om wyndruiwe te verbou en spogwyne met ‘n eie stempel te maak, kom in botsing met die beweging in die vallei om geheelonthouding te bevorder.

Die feit dat dit Katryn self is wat uiteindelik die keuse vir Ben maak, staan in aansluiting by die tema van feminisme wat deur die verhaal loop. Die leser leer nie eintlik veel van Katryn se persoonlikheid ken nie, behalwe dat sy soos Ben lief is vir woorde en vir stories. Die feit dat sy self besluit waar haar toekoms lê en haar nie deur Ben laat manipuleer nie, dui egter op staal agter die skoonheid. Die koms van ds. Andrew Murray en sy passie vir onderwys vir vroue sluit hierby aan en bring dan ook indirek vir Katryn uitkoms en hoop op ‘n nuwe toekoms.

Ben se suster Jacoba verteenwoordig intelligente vroue wat bloot omdat hulle nie getroud is nie, nooit werklik ‘n kans op ‘n eie lewe gekry het nie. Sy is oënskynlik die gedweë dienende Marta wat haar na die familie en veral haar veeleisende ma skik, maar af en toe sien die leser iets van haar opstand en haar smagting na ‘n meer vervullende lewe. Die stilte wat haar meestal omgewe, is nie ‘n rustige stilte nie, maar ‘n stilte waaragter wroeging en dalk woede skuil.

Op die plaas waar Ben saam met sy suster en ma Kato bly, is die stilte ‘n konstante teenwoordigheid. Niks word uitgepraat nie, niks word in die oopte gebring nie. Elkeen dra sy eie onuitgesproke pyn.

Ma Kato is die enigste karakter wat werklik onsimpatiek geteken word. Die uiteindelike verduideliking van haar agtergrond wat haar die heerssugtige vrou maak wat sy is, het nie hierdie leser oortuig nie.

Die gebrek aan goeie gesondheidsorg en die gelatenheid waarmee siekte en dood aanvaar is, blyk ook uit ma Kato se agteruitgang en uiteindelike dood. Daar word nie werklik moeite gedoen om haar verswakkende toestand om te keer nie en met haar dood, is dit net belangrik dat die begrafnis met die nodige waardigheid en vertoon plaasvind.

Sofie, die vrou wat Ben se ma vir hom uitgekies het, probeer haar haglike omstandighede by haar inhalige ou pa hanteer deur haar oordrewe godsdiens en haar voorneme om slegs met haar hemelse bruidegom in die huwelik te tree. Sy is die magtelose slagoffer van twee mans se perversiteit en aanvaar dat die gebeure haar skuld is, soos dit in baie samelewings blykbaar aanvaar is en steeds aanvaar word – onsedelikheid is altyd die vrou se skuld, selfs al gebeur dit sonder haar toestemming. Op die ou end is haar vasklou aan godsdiens nie genoeg om die lewe vir haar draaglik te maak nie.

Dit sluit dan ook aan by die klem wat op sedelike vroomheid gelê word. Dit bly die grootste, onvergeeflike sonde. Dat Katryn arm en van ‘n mindere klas is, kan nog vergewe word, maar haar verlede kan in die oë van die samelewing nooit uitgevee word nie.

Die seuntjie is van die begin af altyd daar wanneer Ben by die hotel (‘n totaal verbode terrein vir iemand in sy posisie) gaan kuier. Op die ou end word die kind ‘n soort Jesus-figuur, die een wat boet vir die volwassenes se sondes. Die gedagte dat dit Ben se straf kan wees wanneer dinge verkeerd loop met die kind, druis lynreg in teen die godvresenheid waarin die samelewing (oënskynlik) gebaai is.

Ben se verknogtheid aan sy perd loop soos ‘n goue draad deur die boek. Op die ou end is dit Napoleon wat tot sy grootste smart lei, maar Napoleon speel ook ‘n rol in sy inkeer en herstel. Soos Jakob wat met die engel geworstel het, bly Ben egter agter met ‘n liggaamlike beperking om hom vir altyd aan sy dwalings te herinner.

Ds. Andrew Murray word met besondere empatie uitgebeeld. Die leser kom onder die indruk van sy fisieke broosheid, maar ook sy diep geloof en sy dwingende dryfkrag. Vir Ben verteenwoordig hy die dinge waarteen hy in opstand is, maar dan word Ben verras deur sy begrip en deernis.

Die geweldige invloed van die kerk op die gemeenskap kan vir die moderne leser as ‘n skok kom. As Ben se vasgestelde plek in die diens ‘n enkele keer leeg is, is daar twyfel oor sy doen en late. En die twyfel word uitgespreek in die vorm van veroordeling.

Anders as in Trek staan die bruin gemeenskap nie sentraal in Katryn nie, maar die werkers is altyd daar – ‘n stille dienende teenwoordigheid, noodsaaklik vir die behoud van die bevoorregtes se lewenstyl.

Die sentrale tema in Katryn is die spanning tussen behoudende en meer liberale denke. Die storie is deurspek met karakters wat in een van hierdie kampe staan en met onbegrip na dié in die ander kamp kyk.

Die sterkste punt van die boek is die lieflike uitbeelding van die tydsgees. Die kerkdienste, die markdae, die daaglikse doen en late in die dorp en op die plaas word glashelder en oortuigend geteken. Die enkele verouderde Afrikaanse woorde (kondemneer, hipokreet) wat gebruik word sluit aan by hierdie atmosfeer. Winnie Rust se besondere kennis van haar dorp en sy geskiedenis is bo verdenking. Vir lesers wat die plase in die Wellington-distrik goed ken, behoort die beskrywing van die omgewing ekstra plesier te verskaf.

Die verhaal word in vertelstyl in die eerste persoon oorgedra, met insetsels in die hede. Hierdie leser voel met meer beelding (showing) en minder telling (vertelling) kon die verhaal effektiewer oorgedra gewees het. Van die sterkste teks kom in die kort insetsels voor wat in die teenwoordige tyd weergegee word.

‘n Groot irritasie is die gebrek aan aanduidings wanneer van toneel verwissel word. Telkemale bevind die leser hom skielik op ‘n ander plek in ‘n ander situasie as in die vorige paragraaf. ‘n Eenvoudige oop reël tussen tonele sou hierdie irritasie uitgeskakel het.

Katryn is ‘n aangrypende verhaal en ‘n waardige afsluiting vir Winnie Rust se besondere bydrae tot die Afrikaanse skat van historiese fiksie.

 

Oor die resensent:

Alta Cloete is ‘n Bolandse skrywer van eg Suid-Afrikaanse lekkerleesfiksie. Meer as vyftig tydskrifverhale asook dertien romanses en nege romans het al uit haar pen verskyn. Aangesien sy op amper vyftig eers werklik begin skryf het, hoop sy om tot minstens tagtig te kan aanhou. Wanneer sy nie skryf of na kinders oorsee verlang nie, probeer sy Afrikaanse boeke op die internet en sosiale media bevorder. Alta Cloete beheer die Facebook-blad 'Kom ons lees weer Afrikaans' en sy het ook haar eie blog: http://www.altacloete.wordpress.com/. Vir meer inligting oor haar gepubliseerde romans en verhale, kyk op: https://www.goodreads.com/author/show/6472211.Alta_Cloete.